Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 6 FEBRUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

In die nuus vandag:

SARL LEDETAL HAAL 1 500

WAAROM MOET U NOU BY DIE SARL AANSLUIT?

LEER HOE OM IN WINDOWS TE PROGRAMMEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-LEDETAL HAAL 1 500

Die SARL-ledetal het gedurende die afgelope week die 1 500 kerf gehaal, die hoogste getal wat dit in baie jare gehaal het. Baie welkom aan al die nuwe lede en die wat weer aangesluit het.

Die gelukkige wenners van die kompetisie vir nuwe aansluitings wat gedurende die Kersgety geloop, en op 15 Januarie 2011 geëindig het, is Lucas Holtzhausen, ZR6LH, en Stephan Waries, ZS1BSW. Veels geluk. Hulle is elk die gelukkige wenner van ʼn 2011/2012 SARL-lidmaatskap.

WAAROM MOET U NOU BY DIE SARL AANSLUIT?

Daar is nog baie radioamateurs in Suid-Afrika wat buitestaanders is, wat inloer met die verwagting om dieselfde dienste en inligting as lede te ontvang. Soos een persoon hierdie week op die SARL-forum geskryf het, en ons haal ʼn verkorte weergawe aan: “Sekere inligting kos geld, rand en sent, meesal rand. Sommige nie-lede verkies om nie-lede te wees. Dit is hul vrye keuse. Maar sommige van hierdie lede verwag sekere dienste van die SARL sonder om by te dra tot die koste vir hierdie dienste. Hulle eis dit gratis.”

En dit is die rede om aan te sluit by die SARL. Byvoorbeeld, uit lidmaatskapsgelde betaal die SARL affiliasiefooie aan die Internasionale Radiounie en sodoende ondersteun hulle die pogings wat die IARU by die ITU aanwend. Dit is deur samewerking dat ons vandag toewysings op die 10, 18 en 24 MHz bande het en meer onlangs op 40 meter. Hierdie pogings kos geld, mense moet reis om hierdie ITU-vergaderings by te woon, druk op streeks-telekommunikasie-organisasies te plaas en ITU-radiokonferensies by te woon. Dit kom beslis nie verniet nie.

Die WRC-12 Konferensie se voorbereidings-vergadering open in effens meer as ʼn week. in Genčve. Dit sal 2 weke duur. Amateurradio sal verteenwoordig word. Die IARU sal nie net die Agenda-item 1.23 (500 kHz)volg nie maar ook ʼn paar ander wat ons bande mag bedreig. Die IARU-afvaardiging sal ook die vordering van die konsepagenda vir die volgende WRC in 2015 of 2016 volg.

Om by die SARL aan te sluit is min om te betaal vir wat plaaslik sowel as internasionaal gedoen word om amateurradio te laat bloei.

Hierdie jaar sal die SARL vir die eerste keer sedert die totstandkoming van die IARU in 1925 die gasheer wees vir die Streek 1 driejaarlikse konferensie in Augustus. Afgevaardigdes van meer as 90 nasionale verenigings sal in Suid-Afrika wees om die strategieë te bespreek om amateurradio die mees opwindende van alle wetenskaplike stokperdjies te hou. Die IARU-Administratiewe Raad sal ook net na die streekskonferensie in Suid-Afrika vergader.

So, indien u ernstig is oor amateurradio, sluit by die SARL aan. Nou is die tyd! Besoek www.sarl.org.za om inligting en aansoekvorms te bekom of bel Mariska Maandag op 011 675 2393.

LEER HOE OM IN WINDOWS TE PROGRAMMEER

Die volgende kursus wat die SARL aanbied is “Leer om te programmeer in Windows”. Bring jou eie toepassings in Windows voort om randapparaat vanaf USB-poorte te beheer. Die kursus sluit USB-tussenvlak in wat relęs beheer en skakelaarposisies en spanningswaardes bepaal. Die kursus sal deur John Willescroft, ZS6EF, aangebied word. Die eerste kursus sal in Kaapstad op Saterdag 19 Maart 2011 aangebied word. John sal u leer om ’n kontroleprogram vir u eie hok, met alleenstaande toepassings ,te ontwerp; u eie, eie EXE-lęers.

Registrasie is R350, vir lede en R500 vir nie-SARLlede. Besprekings is nou oop by www.sarl.org.za, kies RTA en volg die skakels.

GAUTENG PIC-KURSUS WAS ʼn GROOT SUKSES

Die kursus om mikrokontroleerders te programmeer, wat verlede Saterdag by die NARS gehou is, was ʼn groot sukses te oordeel aan die aanmerkings van die radioamateurs sowel as die van industrie.

Die volgende PIC-kursus sal op 16 Julie in Kaapstad gehou word. Ongelukkig sal daar geen verdere kursusse gedurende 2011 gehou word nie.

Die SA Amateurradio Ontwikkelingstrust het die ARRL-boek “PIC programming for beginners”, in voorraad. Dit sluit ʼn CD wat Mplab IDE-sagteware, toesteldokumentasie, videolęers en oefenprogramlęers bevat. Dit is beskikbaar per posbestelling van www.amateurradio.org.za, skakel op books en volg die skakels.

TECHNOBYTE BEHANDEL VANDAG DIE UITSOEK VAN DIE REGTE HITTEPUT

In Amateur Radio Today sal John Willescroft, ZS6EF, die uitsoek van die regte hitteput vir jou projek bespreek. Ook in die program is ʼn onderhoud met Dr Bernie Fanaroff oor die SKA.

NOG ʼn KANS OM IN TE SKRYF VIR DIE RUIMTEWEEKOPSTEL

Die Gautengse Departement van Onderwys het versoek dat die sluitingsdatum vir die ruimteweek se opstelkompetisie tot 31 Maart uitgestel word. Die hoofrede is omdat daar so baie onderbrekings in die tweede kwartaal van verlede jaar was en leerders op hul studies moes fokus, wat baie min tyd gelaat het vir navorsing oor die onderwerp en ook die skryf van die opstel. Die onderwerp van die opstel is “Indien u ʼn ruimtevaarder was op die Internasionale Ruimtestasie, watter eksperiment sou u wou uitvoer en hoekom?”. Volle besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.

KOMPETISIENUUS

Die komitee het 12 logstate vanaf vier radioklubs ontvang vir die eerste SARL 80 m Klubkompetisie. Die uitslae is:

1ste, Wesrand ARK, 152 punte van 9 logstate
2de, Antieke Draadloosvereniging, 46 punte van 4 logstate
3de, Port Elizabeth ARV, 17 punte van 1 logstaat
4de, Sandton ARK, 9 punte van 1 logstaat

Die SARL se Nasionale Velddag word volgende naweek op 12 en 13 Februarie gehou met foon-, GG- en digitale werking op 160 tot 10 meter. Die volledige reëls is beskikbaar in die 2011 SARL Kompetisiehandboek. Die reëls is verander, en dit is belangrik dat dit voor die begin van die kompetisie gelees word.

KLUBNUUS

Die Overberg Amateurradioklub sal ʼn veldstasie vanaf die plaas Lochinvar, net buite Stanford, bedryf. Die klub se Jaarvergadering sal by dieselfde QTH om 10:00 gehou word. Daardie aand sal die Loch Rock-partytjie ook plaasvind, dit wil dus voorkom dat dit ʼn heerlike naweek gaan wees. Besoekers is welkom. Maak kontak met ZS1AZ op andre@zs1az.co.za vir nadere besonderhede.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n lae vlak is. Sonvlek 1 150 is besig om weg te kwyn en tans is daar nognie 'n plaasvervanger sigbaar nie. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting minder as 15 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is met sonop op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die węreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

6 Februarie – Antieke Radiovereniging se GG-aktiwiteitsdag eindig vanmiddag om 12:00 SAT.
12-13 Februarie - 1ste Been van die SARL se Nasionale Velddag van Saterdag 12:00 SAT tot Sondag 12:00 SAT met ZS85SARL vir oulaas op die lug.
12 Februarie - Die Overberg Amateurradioklub se veldstasie en AJV op Lochinvar, net buite Stanford.
21 Februarie - Logstate vir die SARL Nasionale Velddagkompetisie moet in wees na die Bloemfontein ARK.
25 Februarie - Logstate vir die Antieke Radiovereniging se GG-aktiwiteitsdag ingestuur te wees aan Andy ZS6ADY.
28 Februarie - Laaste dag om aanbiedings om 'n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
31 Maart – Inskrywings vir die ruimteweek se opstelkompetisie moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, opgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003